Ontwikkeling gee ekonomie ’n inspuitinG
- JANUARY 2007
Susan Maré
DIE grootste ontwikkeling nóg in Bethlehem se geskiedenis
– ’n onwikkeling van sowat R1 biljoen by Gobles Folley
wat ’n waterfront insluit – is pas deur die Orion-groep
van Johannesburg aangekondig.
Mnr. Franz Gmeiner, uitvoerende hoofamptenaar van die groep, sê
dié ontwikkeling sluit regstreeks aan by die woonbuurte La
Provence en Jordania, die casino en die Bethlehemse lughawe.
Sodra alle reëlings in plek is, oor sowat 12 tot 15 maande,
sal in alle erns met die bouwerk begin word. Die eerste fase is ’n
kleinhandelwinkelsentrum van ongeveer 40000m².
Die ontwikkeling sluit ’n waterfront in, asook ’n winkelkompleks
met talle sakemoontlikhede waarvan Pick & Pay reeds 6000m²
bespreek het, ’n hooggegradeerde en voldienshotel van die Orion-groep,
’n aftreeoord, luukse hoëdigtheidsbehuising, deeltitelwoonstelle
en vele meer.
Dié werkskeppende ontwikkeling in samewerking met die konsortium
Orion Real Estate en ’n swartbemagtigingsgroep, Blacky, sal
in fases geskied. Verskeie plaaslike firmas, asook tydelike en permanente
werkers, gaan hierby baat.
“Ons gaan probeer om dié ontwikkeling te bespoedig.
Die Oriongroep se genoteerde aandele sal na verwagting weens die
ontwikkeling ’n stewige hupstoot kry en ons verwag dat eiendomswaarde
in die omgewing van Gobles Folley aansienlik sal styg tot voordeel
van dié gemeenskap,” sê Gmeiner.
Die Orion-groep is in 1991 deur Gmeiner gestig en is sedert Maart
2006 op die Johannesburgse Aandelebeurs gelys. Die maatskappy se
visie is om na 50 lande uit te brei en dit kan slegs bereik word
as al sy kliënte en gaste ’n Star Above-ervaring beleef.
Dit is presies wat Orion met Gobles Folley in gedagte het, sê
Gmeimer. .’n Woordvoerder van die Dihlabeng-munisipaliteit
sê dit is maar die begin van ’n hele paar ekonomiese
ontwikkelings en verrassings vir die Bethlehemse gemeenskap. Die
munisipaliteit wil graag vir Dihlabeng ekonomiese welvaart te skep.
Die dorp huisves op die oomblik ’n kleinhandel-gedeelte van
sowat 30000m² onder dak en het volgens wetenskaplike navorsing
die potensiaal om nog sowat 30000m² te dra: “Bethlehem
is dus lewensvatbaar vir ontwikkelings soos dié by Gobles
Folley.” .Die bemarking van die ontwikkeling sal plaaslik deur
mev. Rina Swanepoel van Rina & Tokkies-Eiendomme gehanteer word.
Sy kan reeds vir inligting gebel word. Swanepoel se kommentaar aan
Vrystaat: “Bethlehem se ekonomie beur met brute krag vorentoe
kan nie meer gestop word nie.”
|